Vogel’s dam

Information was provided by The Bank Angler

Reg buite en net suid van Spings aan die Oosrand is Vogeldam geleë. Hierdie is die klubwater van Daggafontein Hengelklub wat by Mpumalanga geaffilieer is. Vogel is ‘n moeilike water met nukke en grille en moet maar liefs met handskoene aangepak word...

Vogel’s is nie ‘n baie groot water nie, maar dit is naby aan die stad geleë wat dit baie gerieflik maak vir ‘n dagsessie. Die water behoort aan Daggafontein Hengelklub reeds vir etlike jare. Ek verstaan dat daar dan-en-wan klubkompetisies en vriendskaplike byeenkomste gehengel word, maar in die verlede was daar selfs ligas en proewe by die dam aangebied. Die dam neem rofweg die vorm van ‘n lang driehoek aan met die diepste gedeeltes aan die ooste kant. Rayhaan Khan van Timol’s hengelgereiwinkel in Nigel, het vandag saam met Ronnie en myself kom hengel. Met ons aankoms by die water sit Andre Otten alreeds en hengel – ‘n hengelvriend wat ons so deur die loop van die sessie leer ken het.

Die oord.

Naam: Vogel’s.

Ligging: Oosrand, suid van Springs.

Hoe om daar te kom:

Vanaf Springs neem die R51 na Nigel. Net buite Springs ry jy bo-oor die treinbrug en draai links by die Struisbult bordjie. Volg die pad vir 1.1 km en draai regs by die eerste straat nl. Eend straat. Volg die straat vir 900 meter en draai links af op die tweespoor grondpad. Volg die pad tot by die water.

Die oewer en weer.

Lengte van oewer: Ongeveer 2km.

Kontak: Thys Greyvenstein - 083 280 9039

Grondoppervlak: Tipiese Vaaldam oewer met gras en modder plek-plek.

Waterkleur: Helderskoon.

Waterdiepte: 1m diep op 35m vanaf die oewer waar ons gehengel het.

Obstruksies: Geen bekend

Lugtemperatuur:

Min 5°C @ 07 :00

Maks. 23°C @ 14:00.

Windrigting: Vanuit die Weste.

Windsterkte: 0 - 3km/h.

Wolkbedekking: Geen.

Maanstand: Nuwe Maan.

Die sessie.

Datum: 27 Mei 2014.

Duur: 10:00 tot 16:30.

Verwagting:

‘n Moeilike water wat min maar groter vis gee. Ons verwag ‘n moeilike sessie – veral hierdie tyd van die jaar.

Groter vis van Vogel’s.

Die paar keer wat ek al van die dam gehoor het, het die vertellers my meegedeel dat Vogel’s ‘n water is wat in die laaste klompie jare nie baie vis oplewer nie. Verder het ek ook verstaan dat daar gewoonlik vis van 4kg plus, gevang word. Dit opsig self is vir die deursnee kompeterende oewerhengelaar alreeds ‘n mooi vis wat nie elke dag gevang word nie. Nee, vis rondom ‘n kilogram is meer bekend en word amper as die ‘norm’ aanvaar.

Met ons aankoms het ons ook vir Johan Koekemoer ontmoet wat lid is by Daggafontein en die water van tyd-tot-tyd hengel.

Die eerste vis.

Ons buurman Andre, het vroeg reeds ‘n vis geland, maar die eerste vis wat ek in lewende lywe waarneem vang Andre terwyl ons besig is om onsself nog te vind tussen die opslaan en reg maak van ons gerei deur. ‘n Mooi karpie van by die 2kg rond. “Hier is ten minste vis”, merk ek grappenderwys op. Die dag lyk belowend met twee vis wat reg langs ons al uitgekom het.

Ek moet sê, hierdie karpe ken net een ding as hulle die aas optel en dis om op loop te sit. Meters en meters lyn word van die katrol afgestroop teen een vinnige spoed! Lekker! So teen 12:00 se koers skreeu Andre se katrol weer en met die vaskapslag buig sy stok behoorlik. Die geveg duur ‘n paar minute en ‘n dik karp breek die vlakwater en skop ‘n groot modderwolk op. Toe die vis geskep word kon ek sien dat dit ‘n sinvolle vis is en ons al drie stap nader om dinge van naby te bekyk. ‘n Vet ronde karp lê in die skepnet op die gras. Ek bied aan om die vis te weeg en die vis trek die skaal op 5.4kg – nie sleg nie. Vol vertroue stap ons terug na ons staanplek toe met alle hoop gevestig op die poeliesmanne wat tans nog bewegingloos aan ons lyne hang. Een ding weet ek wel: wanneer die vis die aas gaan optel sal dit skielik en met ‘n groot gejuig wees...ons wag in spanning.

Ons enigste vis.

Uit die hoek van my oog vang ek die fluoro oranje poeliesman van Rayhaan wat aan my regterkant sit. Die verklikker begin sommer te bewe aan die lyn soos die vis aan die voorpunt die aas optel. Rayhaan is op sy pos by sy stokke toe die aksie plaasvind en kap vinnig vas. Die vis is aan die hoek en ek raai hom aan om die vis mooi te speel en te sorg dat dit in die skepnet beland. Ronnie kry die skepnet en stap nader om te help om die vis veilig aan wal te bring. Soos die vis in die vlakwater ingeswem kom, kan ek sien dat dit ook ‘n mooi groot vis is. Met Ronnie se hulp is die vis vinnig in die net. Die stok het nie te lank gelê nie en Rayhaan bevestig dat die karp die hoek met die springwurm, wat hy ongeveer ‘n halfuur gelede gelaai het, opgetel het. Uit die aard van die saak duik ek en Ronnie amper gelyktydig vir Rayhaan se wurmemmertjie...

‘n Vleis asie vir die winter?

Ek onthou jare gelede hoe ek en my pa een dag by Roos seOord in die Krokodilrivier net duskant Harties se inloop gaan hengel het. Dit was ook ‘n wintersdag. Ons het onsself moeg probeer om ‘n vissie aan die lyn te kry, terwyl ons buurman die een vis na die ander op wurms gevang het. Sy woorde sal my seker altyd bybly: “in die winter is die vis ook lief vir hulle biltong”. Hy het vas geglo dat wintertyd langs die water gepaard gaan met ‘n wurm aan die hoek en vandag word die enigste vis tussen ons drie manne ook met ‘n wurm gevang!

Die koue “Hot Spot”.

‘n Paar van die manne wat met Vogel’s bekend is het ons aangeraai om by die bome te sit waar jy die rietbos op die oorkant gewaar. Die rietbos staan in die water en dit moet as merker gebruik word om heen te gooi. Natuurlik sit Andre toe mos nou reeds op die “Hot Spot” en moes ons drie maar tevrede wees om regs van hom in te trek. Minstens is ons in die onmiddelike omgewing van die “Hot Spot” en behoort dit sekerlik goed genoeg te wees... Teen 16:30 is dit oppak tyd en moet ons tevrede wees met Rayhaan se karp as die enigste vir ons geselskap. Ons buurman Andre het 5 vis vir die dag bymekaar gemaak en kon heel tevrede huiswaarts keer. Gelukkig is ons 

nie bang nie en sal beslis nie só gou afgeskrik word nie. Volgende keer is ons weer terug by Vogel’s en dan moet die karpe pasop!

Location:

Gauteng, Springs. GPS: 0.0000000, 0.0000000

Facilities:

Cell: 083 280 9039