Moolman's - Vaaldam

Information was provided by The Bank Angler

Ons hengel by Moolman’s Vaaldam

Moolman’s, ook bekend as “Ons Hoop”, is geleë aan die Vaalrivierkant van Vaaldam, en vandag hengel ons hier ‘n wedstryd saam met Taaibos Hengelklub. Die watervlak van die dam is heelwat laer as normaal, maar as daar water is, kan ons hengel...

Die oord.

Naam: Moolman’s, Vaaldam.

Ligging: Sentrale deel van Vaaldam.

Hoe om daar te kom: Vanaf Oranjeville neem die R716 in die rigting van Villiers/Frankfort. Tussen Bierman en Jim Fouché is die afdraai na die plaas aan die linkerkant. Volg die grondpad links om die plaashuis en dan reguit af water toe.

Die oewer en weer.

Lengte van oewer: Ongeveer 3km.

Grondoppervlak: Gras of sand tot teen die water afhangend van die dam se watervlak.

Waterkleur: Vaalbruin.

Waterdiepte: 1m diep op 30m vanaf die oewer waar ons gehengel het.

Obstruksies: Min tot geen, maar daar is sprake van ‘n rif aan die linkerkant waar ons gehengel het wat vir sommige hengelaars problematies was.

Lugtemperatuur:

Min 12°C @ 07 :00 en Maks. 27°C @ 14:00.

Windrigting: Noordwes.

Windsterkte: 10km/h vir die meeste van die sessie.

Wolkbedekking: 30%.

Die sessie.

Datum: Datum: 26 Oktober 2013.

Duur: 07:30 tot 15:30.

Verwagting: Met heelwat hengelaars wat aan die wedstryd deelneem mag die vis moeiliker hoek vat - ons sal maar moet sien.

Dit is die Saterdag pas na die afgelope Feeder proewe by Bloemhofdam en ek het die feederstokke vandag vir die stywer oewerstokke verruil. Ek moet sê na ‘n week se hengel met die ligte feederstokke wat boonop nog beskik oor die uiters sensitiewe punt, is dit nogal ‘n aanpassing om die stywer stokke in die hand te vat en die eerste gooi te maak! Maar dis soos fietsry – jy verleer dit nooit nie. Miskien ‘n bietjie geroes, maar nie vergeet nie!

Strawwe kompetisie.

Rudie en Pieter du Plessis hengel vandag saam met my as ons deelneem aan Taaibos Hengelklub se Pro Mania. Die klub bied hierdie wedstryd tesame met hul maandelikse klubkompetisie aan. Nou-ja, oor die algemeen beskik die Vrystaat klubs oor goeie hengelaars en vandag is geen uitsondering nie. Buiten vir die feit dat heelwat behendige klubhengelaars deelneem is daar ook ander hengelaars wat spesifiek kom hengel om aan die Pro Mania deel te neem. Vandag is bekende manne soos Fanie de Jongh, Johan Beukes, AB Brits en Jan van der Heever, om net ‘n paar te noem, van die hengelaars wat deelneem.

Alhoewel daar steeds penne getrek word, verleen die organiseerders aan hengelaars wat saam ry die geleentheid om langs mekaar te hengel. Rudie, Pieter en myself trek drie penne langs mekaar en ons sit aan die regterkant van die oewer, seker so 7 penne duskant die laaste manne op die kant pen.

Koue water.

Met my eerste tree in die Moolman-water, besef ek dat die water baie kouer is as Bloemhofdam s’n waar ek net die vorige dag nog gehengel het. Ek kan die temperatuur verskil amper nie glo nie: hierdie water is regtig koud en ek wonder hoe die vis as gevolg daarvan sal reageer. Is dit maar die ‘normale’ temperatuur van die Vaaldam water en ek net nie gewoond daaraan na die week by Bloemhofdam nie, of het daar miskien koue water van iewers af ingekom? Dit klink nie of die “koue” water vir Rudie-hulle pla nie.

Die eerste ase plons in die water en die manne aan ons linketkant is sommer vroeg-vroeg in die water – skepnet onder die arm en gereed om die eerste visse van die wedstryd te skep. Regoor die oewer stap daar plek-plek hengelaars in om vis te skep en dit is vir my duidelik dat die koue water vir die vis geen probleem is nie. Wel, ook goeie nuus vir ons!

Die begin.

Ons hengel vandag aan die regterkant van die groter Moolmanoewer. Met die watervlak wat so laag is, is die ‘eiland’ aan ons linkerkant toeganklik mits jy deur die sagte sand kan ry. Leeuwplaas is regs van ons en ons kan sien dat daar vandag ‘n ander klub op daardie oewer hengel. Aangesien hierdie deel van die dam eintlik ‘n opstoot is, is die water nie baie diep nie. Ek besluit om soos gewoonlik, waar die water vlak is, eerder verder te begin hengel, maar ek laat nooit ‘n nader stok buite rekening nie. My keuse vir die begin van die wedstryd is my normale 90 en 120 meter afstande. Na so vyftien minute is dit my kort stok se poeliesman wat terug stoot met die nuwe fluoro groen TCP/amandel/karamel en rooi heuning konsentrate wat ek op die voerbol gespuit het. Ek moet sê dat hierdie geurkombinasie vanaf die winter van 2013 een van my gunstelinge is, want die vis is eenvoudig mal daaroor! My eerste vis in die net vir die dag is ‘n 500g karp. Pieter sit twee penne links van my en hy trek soos ‘n pyl uit ‘n boog weg as hy een, twee en drie visse sommer binne enkele minute na die begin van die wedstryd vang.

Na ‘n uur.

Rudie deel my mee dat Pieter die vis sommer naby vang, hy praat van 50 meter. Sy volgende gooi is toe ook min of meer opdaardie afstand en kort voor lank is hy in die water en skep hy die vis. My lang stok het teen hierdie tyd ook al ‘n vis opgelewer, maar dit was selfs kleiner as die 2 vis wat ek op die kort stok gevang het. Ek besluit om ook die 50 meter lyn ‘n kans te gee en trek my 12-voet stok uit. Na ‘n paar minute op die kort lyn kry ek ‘n byt en vang ek ‘n mooi muddie - iets om oor te dink! My 90 meter stok hengel ek nog konstant op die ingehaakte afstand met ‘n vis op daardie lyn so dan-en-wan.

Na twee ure het ek 5 vis in die net en voel dit vir my of dinge nie lekker is nie. As ek links kyk sien ek manne in die water, kyk ek regs sien ek manne uit die water kom. Verder regs skep twee manne vis. Alhoewel ek vis kry, voel ek nie gelukkig met myself nie. Ek het nou al ver probeer en naby, maar dinge voel net nie vir my reg nie. Dan kry ek vining ‘n byt en dan lê die aas weer langer.

Ek stap oor na Rudie langs my en deel my denke met hom. Hy kry ook vis maar het ook nie “fireworks” nie. So in die gesels en sonder dat ek dit besef, begin ek die prentjie opsom. Dit wil voorkom of daar oral vis te vang is. Die meeste sukses tot op hede was op my 90 meter stok. Skielik gaan die liggie aan en ek besluit daar en dan om my ander stok ook op die 90 meter in te haak en konstruktief op die kol te begin konsentreer.

Wind van die kant.

Teen ongeveer 08:30 begin die wind opkom vanaf die eiland se kant. Dit waai van links na regs soos ons sit en hengel en gewoonlik maak só ‘n wind dinge effens moeiliker wanneer dit kom by akuraatheid veral as die wind sagter en harder waai. Sodra jy uitgewerk het hoeveel om af te mik vir wind sodat dit jou aas presies op die kol ‘afdruk’ en die wind waai dalk net bietjie sagter of harder op daardie oomblik, val dit óf links óf regs van jou kol.

Die kant wind waai ook makliker ‘n bak in die lyn, wat dit moelik maak om byte mooi waar te neem. Ek gebruik ‘n swaarder poeliesman om vele take te verrig: eerstens trek dit baie van die bak uit die lyn. Tweedens help die swaarder gewig van die poeliesman ook om moeiliker deur die wind heen-en-weer gewaai te word wat dit makliker maak om die byte te sien.

Ek volg altyd die volgende wenke om die kant wind baas te raak:

Wenk 1: Mik af vir die wind. Kry ‘n sekondêre merker op die oorkantste oewer waarvoor jy gooi veral as die wind eers later deur die wedstryd begin waai en jy reeds jou kol begin bou het. Jou doelwit behoort te wees dat jou aas die water tref presies op jou aanvanklike merker. Dis beslis baie moeiliker as wat dit klink, maar dit is tog moontlik om dit reg te kry.

Wenk 2: Konsentreer! Ek konsentreer om te konsentreer. Dis so maklik om sommer net te gooi om jou aas in die water te kry, maar dis beslis die verkeerde manier. Nee, vat jou tyd om jou aas op die kol neer te sit en jou sukses sal outomaties verbeter.

Wenk 3: Ek verkies gewoonlik om met ‘n klein kurk poeliesman te hengel, maar in winderige toestande gebruik ek baie eerder ‘n spiraal poeliesman. Die verskil is dat ek ‘n langer spiraal gebruik, 40 tot 50mm is die antwoord. Nie net is die poeliesman swaarder nie, maar dit sit ook beter op die lyn vas waar ‘n kurk poeliesman gewoonlik deur die wind op die lyn af gewaai word.

Wenk 4: Staan wind-op. Deur wind-op van jou kas stelling in te neem voor jy gooi, werk jy die effek van die wind op die lyn tee en sal die bak in jou lyn minder wees.

Wenk 5: Wees vinnig. Sodra my aas die water tref, begin ek die boog in die lyn in die lug na die gooi, met groot spoed uit trek, want die boog in die lyn in is effektiewelik die bak in die water. Begin eenvoudig so vinnig as moontlik die lyn herwin en hou ook die punt van jou stok so naby as moontlik aan die water.

Sit jou kop neer.

Met groot dringendheid trek ek die kort stok uit, haak die 50 meter merk uit en haak in op 90. Ervaring het my al geleer dat wanneer jy wil verander om dit dadelik en konstruktief te doen. Met beide stokke nou op dieselfde afstand is ek reg vir besigheid. Die manne aan my regterkant vang weer my oog as hulle alweer in die water is om te skep. Intussen waai die wind effens sterker en ek begin meer van die fluoro groen TCP/amandel/karamel op die voerbol spuit terwyl die rooi heuning by ‘n enkele spuit bly. Stadig maar seker begin die vis op die kol meer aktief raak, of is dit nou dat daar meer vis op die kol hulself tuismaak? Dis nou 10:42 en my vis telling staan op 9.

Teen 11:20 het ek vinnig 4 vis by my total gevoeg waarvan 2 dik muddies is. Hoe meer voer ek op die kol neer sit hoe korter raak die tussenposes tussen byte… en toe is die vis daar! Die wind waai, ek looi die fluoro groen TCP/amandel/caramel en rooi heuning op die voerbol en die byte (en die vis) kom. Met my tempo goed aan die gang weet ek dat dit nodig is om die vis se aandag op die kol te hou: elke voerbol word binne in die SA Poeier geskud voor ek gooi en as die bol die water tref is dit groen. Poeliesman op die lyn en na ‘n paar minute byt die vis terug. Geen gewag, as die vis in hierdie wind terug byt is hy aan. Ek rol die lyn styf, kap vas en die vis is aan! Die vis byt nou verwoed en ek moet byhou. Dit gaan so vining dat ek nou net deeg op die hoek hengel – groot dege! Om die vis se aandag verder te hou begin ek die onderste hoek van een stok, in die ligte groen ‘wintergreen’ dip en die vis reageer positief. Ek deel met Pieter en Rudie my plan en hulle kry ook vis daarop. Tussen die jong karpe en mooi muddies kan ek byna nie by bly nie. Die deeg word amper slordig op die hoek gerol en die voerbol baie vining om die M1 gevorm, maar daar is nie nou tyd vir mooi-mooi’s nie – die vis byt en hoe vinniger die aas in die water kom, hoe vinniger byt die vis. Teen 15:00 hoor ek die toeter blaas, maar besef gou dat die Leeuwplaas wedstryd se toeter is – ons het mos later begin. Daar is nog 15 minute oor en ek werk vining om nog ‘n laaste 2 vis in die net te sit.

Sjoe, die laaste paar ure van die wedstryd het die vis regtig goed gebyt te danke aan die besluit om beide stokke ingehaak op dieselfde afstand te hengel. Heel tevrede met my poging vir die dag, trek ek my hounet deur die water na die inweeg wat aan my regterkant plaasvind – ek is seker ek kon nie te sleg gedoen het nie…

Hierdie eenvoudige maar effektiewe metode kan gebruik word om baie gemaklik jou lyn in te haak op enige afstand deur die loop van die wedstryd. Verder word dit naby jou kasstaander opgestel wat beteken jy is heeltyd naby jou stokke.


Haak die ‘clip-on swivel’, wat vooraan jou lyn gebind word, aan die een pen en span die lyn rondom die twee penne tot op die verlangde afstand.


‘n Langer spiraal poeliesman is meereffektief wanneer die wind waai.

Met die vis baie aktief op die kol en die beweging van die water a.g.v. die wind, het ek ‘n groter “dooie” aas op die hoek verkies wat die vis beter kon optel en ‘n beter hoekpenetrasie kon verseker: twee skoon soet wit degies.


Met die wind wat die heeltyd gewaai het, het ek baie van die groen TCP/amandel/karamel aan die een kant van die voerbol gespuit...

...terwyl een spuit van die rooi heuning voldoende was.


Gemengde sukses vir die sessie.

24 vis met ‘n massa van 17kg was genoeg vir ‘n 2de posisie vir die wedstryd.

Location:

Free State, Between Villiers and Frankfort. GPS: 0.0000000, 0.0000000

Facilities: