Kromkrans

Information was provided by The Bank Angler

Ons hengel by Kromkrans

My volgende stop is Kromkrans buite Hendrina in Mpumalanga. Hierdie water word deur Vasbyt Hengelklub van Middelburg, beheer. Die Oewerhengelaar se kamera het die aksie op ‘n koue wintersdag kom vasvang...

Eerstens moet ek om verskoning vra dat vandag se sessie nie soos genoem by Vogel’s gehengel word nie. ‘n Week na die eerste sessie by Vogel’s, het ons weer daar gaan lyn natmaak vir deel 2, maar weereens kon ons tussen 3 hengelaars kort voor oppaktyd, slegs 1 karpie aan die lyn kry. Dit het ons laat besluit om Vogel’s tot die somer met rus te laat. Ek is seker ons gaan in die somer ‘n paar mooi Vogel-vis in die hounet kan sit. Ek het werklik nie gedink die vis op die Oosrand kan só moeilik wees nie...

Petru is gereed vir enige dip-situasie by enige water...

Die oord.

Naam: Kromkrans

Ligging: 20km Suidwes van Hendrina.

Hoe om daar te kom: Vanaf Hendrina neem die R55 rigting Ermelo. Ongeveer 21km buite Hendrina draai links af by die Kromkrans roeteaanwysingsbord. Volg die grondpad vir 5km en draai skuins regs af op die grondpad. Volg die grondpad vir 2km tot by die hek.

Die oewer en weer.

Lengte van oewer: Ongeveer 2km.

Kontak: Petru Venter 082 313 0707.

Let wel: Besprekings is noodsaaklik!

Grondoppervlak: Gras/modder tot teen die water.

Waterkleur: Liggroen tot skoon.

Waterdiepte: 1m diep op 105m vanaf die oewer waar ons gehengel het.

Obstruksies: Geen bekend.

Lugtemperatuur: Min -6.5°C @ 07 :00 en Maks. 19°C @ 14:00.

Windrigting: Vanuit die Ooste.

Windsterkte: 0 tot 5km/h.

Wolkbedekking: Geen.

Maanstand: 3 Dae na volmaan.

Die sessie.Datum: 16 Junie 2014.

Duur: 07:30 tot 15:30.

Verwagting: Kromkrans is ‘n ‘nuwe’ water wat nou eers vir die afgelope paar jaar gehengel word, maar die manne van Mpumalanga vang mooi sakke vis in die somermaande – ek is seker ons sal ‘n paar visse kan vang vandag...

Waar is die dam?

Ek ontmoet vir Petru en Thinus voor die Pick ‘n Pay in Hendrina omstreeks 06:15. Nou nog so 30km tot by die dam. Kromkransdam is geleë op een van die groot plase in die omgewing. Die dam is deur een van die Middelburg hengelaars ontdek en Vasbyt Hengelklub het ingespring en beheer nou die water. Dit is eers as jy feitlik by die dam is, dat jy die water kan sien. Kromkrans is in ‘n laagte geleë met die noordelike oewer wat redelik steil is. Ons ry met die twee-spoor grondpadjie om die damwal tot op die suidelike oewer waar ons vandag gaan hengel. Met die dam wat so laag geleë is, kan ek myself net indink dat dit vrek koud langs die water gaan wees – koue lug daal mos en dit gaan lê presies op en om die dam as jy na die omgewing hier kyk! Die termometer se lesing bevestig dan my vermoede as ek my bakkie langs die water stop met ‘n lesing van minus 6.5 °C - Hoëveld winter op sy beste! Die sonnetjie steek ten minste gou sy kop oor die randjies en begin al wat verkluim is baie stadig opwarm. Ons hengel die diepste deel van die dam vandag naby die damwal. Links op lê die inloop met vlakker water waar heelwat vis in die somermaande gevang kan wordl.

Ysige water beteken min vis.


Petru kon die ys breek met hierdie karpie.

Nou kan jy maar vir jouself dink hoe koud die water in hierdie gat gaan wees! Ek doen nie eers die moeite om my waterskoene aan te trek nie – nee wat, dit sal ek eers baie later vandag doen. Ek sal maar die eerste vis of drie stadig en versigtig uit die water tot op die oewer sleep. Die eerste uur en ‘n half gaan verby sonder enige indikasie van ‘n byt. Ek staan by Petru en Thinus en gesels en toe skreeu die eerste katrol – dis een van Petru se stokke. Die vis is aan en nou moet hy in die ysige water in om te skep, en hy loop sommer knie-diep in! Sy bravade word beloon met die eerste karp van die dag van ongeveer 1,5kg. Die feit dat die vis traag is hierdie tyd van die jaar is te verstane as die temperatuur drasties daal aan die begin van Juniemaand. Ek is seker die uitwerking van die dalende temperature is groter op ons vis wat vir bykans 9 maande van die jaar gewoond is aanwarm weersomstandighede en dus warmer water.

Net floaties?

Petru glo daarin om net floaties by Kromkrans te hengel – in elk geval die laaste tyd. Hy voel dat hy meer positiewe byte op die floaties kry in vergelyking met ‘n degie agter die floatie. Dit mag inderdaad die geval wees. ‘n Floatie hoekaas is beslis baie ligter as ‘n floatie en degie kombinasie wat gevolglik die hoek meer beweeglik in die water maak. Verder sal die hoek met slegs ‘n floatie hoër van die bodem op gelig word in vergelyking met ‘n floatie/degie kombinasie – hierdie feit beteken dat die hoekaas meer sigbaar en beter in die ‘strike zone’ aangebied word. Die floatie alleen hoekaas kan ook ‘n nadeel of twee bied: dit mag wees, afhangend van die tipe floatie wat gebruik word, dat die floatie maklik van die hoek kan afkom wat die hengelaar hoekaasloos sal laat met verreikende gevolge. Verder gryp die vis gewoonlik só ‘n hoekaas met mening, maar dit kan daartoe lei dat die hoek nie behoorlik in die vis se bek haak nie. In so geval kom die vis baie keer naby die skepnet af sodra hy ‘n paar plukke heen-en-weer gee om los te kom.

Verder het Petru opgemerk dat hy die vis behoorlik kans gee om met die katrol te loop voor hy vaskap. Hy sê dat hy vind die vis kom maklik af indien die katrol nie behoorlik loop nie. Hierdie kan dus natuurlik die gevolg wees van die floatie alleen op die hoek.

Heuning en naeltjie olie.

Intussen het Thinus kort na Petru se eerste vis ook sy skepnet kon natmaak. Kort na sy eerste vis is hy weer in die water met ‘n tweede karp aan die lyn. Skielik het daar bietjie lewe in die water gekom, alhoewel my poeliesmanne nog dapper hang...

‘n Doelgemaakte spoeltassie hou my spaar spoelle veilig. Die lyn bly ook uit die skadelike sonstrale wat die lewensduur van die lyn verleng.

Sonder om regtig oor afstande ooreen te kom, hengel ons drie manne so tussen 55 en 70 meter. My stokke is ingehaak op 60 en 70 meter. Ek hou die stophorlosies dop en laat die aas nooit langer as ‘n uur en vyftien minute lê nie – vir my maak dit net nie sin om my aas te los tot ‘n vis eendag die aas opspoor nie. Nee, ek laai eerder vars aas en probeer ‘n ander geurkombinasie in ‘n poging om meer uit die sessie te haal. So kry ek my eerste byt 12 minute nadat ek vars opgeaas en gegooi het. Jy sien, “method to my madness!”. Ek probeer die karp versigtig uitsleep, maar hy skud sy kop so een of twee keer en toe kom dit vis af – die hoek het beslis nie goed gehaak nie... My tweede byt en die aas lê so bietjie langer: 35 minute, maar steeds nog lekker vinnig vir ‘n wintertempo. Uiteindelik is my eerste vis in die net; dis alreeds 11:30 en die dag stap aan. Probeer weer dieselfde kombinasie, maar niks gebeur nie. Verander die geurkombinasie en na 9 minute loop die katrol – dis nie ‘n groot vis nie, maar hy tel! Wys jou net, deur te bly dink en te verander kon ek sukses behaal.

In tussen kom Thinus lekker aan die gang. Hy staan teen hierdie tyd alreeds op 5 vis met 1 of 2 wat al afgekom het. Hy is los hande voor ons met onder andere ‘n kombinasie van heuning en naeltjie olie op die voerbol. Ek hou dit in gedagte...

Soek die vis – veral in die winter.

Teen 13:00 het ek gedink die voer op die twee lyne wat ek hengel behoort al die vis se nuuskierigheid geprikkel het om ondersoek te kom instel, maar allermins op my 70 meter stok. My enigste reaksie tot dusver was op die 60 meter afstand. Ek haak die 70 meter merk uit en voeg nog 10 meter lyn by en haak weer in. Op die voerbol gooi ek ‘n dun strepie van my gusteling rooi-oranje “cinnamon/naeltjie olie” en spuit genoeg van die rooi heuning konsentraat op die skoon kante van die bol. Die onderste hoek met ‘n fluorescein floatie en degie doop ek in die liggroen bloekomolie. Vyftig minute later sien ek die poeliesman opskiet en vorentoe vlieg soos die katrol loop. Resultate! My laaste 3 vis vir die dag is almal op hierdie kombinasie. Dankie Thinus vir die aas wenk!

Iets wat baie belangrik is en wat ek vandag weer besef het, veral in die winter, is om die vis te soek op ‘n ander afstand indien jy nie reaksie kry soos verwag nie. Hou in gedagte dat vis in die winter se koue water minder rondswem as tydens die somer. In die somer is dit moontlik om ‘n voerkol te ‘bou’ en algaande meer en meer vis na die kol te trek. Wanneer die vis egter traag rondswem is dit belangriker om jou aas tussen die vis te kan plaas. Vis bly nuuskierig – winter of somer – maar sal makliker ondersoek kom instel na jou aas wanneer dit naby genoeg aan hulle in die water val. Hulle sal op die klank en moontlik sigbaarheid van die aas wat in die water plons of verby hulle sink, reageer. Soos byvoorbeeld die 2 byte waarvan ek vroeër gepraat het... Verander dus eerder jou hengelafstand in die winter en ‘soek’ die vis.

Nog ‘n karpie uit die ysige water.


Die 4 houertjies vir spaar gelaaide stroppe in sy ‘battle box’ hou Petru gereed as die byttempo hoog is.

Een van Petru se gunsteling Kromkrans-kombinasies.

Die rooi heuning konsentraat – ‘n dodelike lokmiddel vir

Kromkrans


Ek moes hard werk en aan die dink bly vir my 5 vis vandag...


Thinus het loshande die dag gewen met 8 vis. Sy vis was ook van goeie kwaliteit.


Petru met 6 vis vir die sessie – niesleg vir ‘n wintersessie nie.


DEEL 2

Met die winter wat al die waters van ons land nou ferm in sy koue greep het, sit ons weer af na Kromkransdam. Vandag hengel ons die water van die noordelike oewer met ‘n geweldige skuins helling. Die visse het fluks gebyt by meeste van ons...

Waterdiepte: 1m diep op 10m vanaf die oewer waar ons gehengel het.

Obstruksies: Geen bekend.

Lugtemperatuur:

Min -2°C @ 07:00

Maks 18°C @ 14:00.

Windrigting:

Vanuit die Weste.

Windsterkte: 0 tot 5km/h.

Wolkbedekking: Geen.

Maanstand:

3 Dae na volmaan.

Die sessie.

Datum: 15 Julie 2014.

Duur: 07:30 tot 15:30.

Verwagting: Ons sal beslis vis kry, hoeveel is die vraag...

Vanoggend is nie so koud soos ons vorige sessie hier by Kromkrans nie. Die mis is baie dig en dis nie eers moontlik om die oorkantste oewer te sien nie. Padlangs het ek alreeds vanaf Secunda baie mis gekry op die pad. Barry Strumpher en Petru Venter is saam met my vandag vir ons tweede sessie by hierdie lieflike water buite Hendrina – of is ek nou saam met hulle hier. . .? Ongelukkig is die water nie oop vir die publiek nie, maar klub en provinsiale besprekings word met graagte geakkomodeer. Barry kies die hengelplek vir die dag op die oewer uit. Skuins regs voor ons is die groot populierbos en die “eiland” lê links van ons. Soos dit maar is hier by die dam is die oewer begroei met biesies en moet jy maar ‘n oop plekkie vir jouself kies om jou gerei staan te maak. Soos ek in die vorige uitgawe genoem het, is die water onder beheer van Vasbyt Hengelklub en die klub is baie gesteld op die bewaring van die vis en die water, daarom dat die biesies mag groei net waar hulle wil. Van skoonmaak is daar nie sprake nie, die biesies is van kardinale belang wanneer die vis broei en help ook met die natuurlike voedsel in die dam.

‘n Paar Winter Wenke.

1. Gewoonlik is kleiner ase beter in die winter – probeer slegs ‘n floatie of fyn degie of selfs ‘n enkel mieliepit op die hoek.

2. Varieer die hoeveelheid dip op die voerbol en kyk of dit nie ‘n beter tempo kan bewerkstellig nie.

3. Soek die ‘goue lyn’ waar die vis beweeg.

4. Pas by die byttempo van die vis aan – as jy sien die vis byt byvoorbeeld ongeveer elke 40 minute, moenie jou aas veel langer as die 40 minute los nie. Die feit dat jy nie in daardie spesifiek tydsperiode ‘n byt kon kry nie, beteken dat iets fout kon wees. Verkeerde aas, afstand, nie op die kol nie ens. Laai eerder vars aas en probeer weer.

5. ‘n Bietjie warm water in ‘n fles wat kort-kort by die water in jou handewas emmer gegooi word sal verseker dat jou hande nie vries wanneer jy daarvan gebruik wil maak nie.

6. ‘n Waterbroek (“wader”) vir my is ‘n moet-hê in die winter.

7. Sorg dat jou voer in die water op jou kol agterbly. Daar moet iets wees wat die vis in die area sal hou namate die dag vorder.

8. Gewoonlik is die middag meer produktief as die oggend – beplan jou sessie dienooreenkomstig.

“Ball ‘n All” teenoor strepies.

So ‘n week of wat na ons sessie gaan hengel Petru en sy vrou Erika weer by Kromkrans om nuwe stokke te gaan inwei. Teen die einde van die dag kry Petru 11 vis en Erika 17. Haar geheim? Sy noem aan my dat sy nooit skaam is om genoeg dip op die voerbol te gooi nie, om die waarheid te sê sy smeer sommer die bol. . . Ek wou weet of sy dit altyd so doen en haar antwoord was dat sy een stok begin met strepies dip op die voerbol en die ander voerbol word gesmeer. Nou kyk sy wat die reaksie is en probeer ‘n tendens vasstel op die spesifieke dag by die spesifieke water. Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer sin maak dit vir my – veral vir die winter hengel. Ek dink nou nie ek sal die voerbol met die knoffel smeer nie, maar kan dit skade doen om die voerbol met ‘n vrugte geur of ‘n molasse ‘musk’ soos in haar geval te smeer?

‘n Enkel helder oranje sagte floatie - moontlik net genoeg om die vis te interesseer.

Perske en naeltjie olie.

Dit is vir my baie duidelik dat Kromkrans goed reageer op die naeltjie olie-ding. Hier is dit nou weer vandag bewys. Ons praat so tussen mekaar oor geure waarvan die Kromkrans visse hou en die mooi oranje perske ball dip kom ter sprake. Ook nie lank nie of Barry noem dat hy nou daarvan opgesit het. Na ‘n twintig minute periode loop sy katrol. Uiteindelik neem die dag se wonder-kombinasie die gestalte van die oranje perske ball dip en rooi-oranje kaneel/naeltjie olie aan. Nie ‘n slegte kombinasie oor die algemeen nie!’n Vrugte geur saam met ‘n sterk spesery geur bied jou die beste van beide wêrelde. Om die kombinasie op die hoeke af te rond gebruik Barry die sagte ronde floatie ook in die rooi-oranje kaneel/naeltjie olie geur met uitstekende resultate.

Daardie goue lyn.

Dit is ‘n onteenseglike feit dat tydens enige wedstryd of sosiale uitstappie die afstand waar jy jou aas plaas van kardinale belang is. Vandag het ek beslis nie op hierdie goue lyn gehengel nie, maar my verlaat op die moontlikheid dat die gekose 60 en 80m afstande teen die einde van die sessie die vis in die hounet sou sit. . .maar dit het nie. Vandag kon ek nie die visse wen nie. Barry en Petru het baie goed gehengel en dit het gelyk of hulle net mooi niks verkeerd kon doen nie! Ek moet sê: “Frustrerend!” – veral as jy alles in jou vermoë doen om ‘n vis te vang. Petru en Barry het eenvoudig presies op die regte plek, waar die vis wou wees, gehengel. Die spruit wat die dam voed, loop volgens Petru-hulle se waarneming min of meer in die middel van die dam op die plek waar ons vandag gehengel het. Hy hengel nooit naby nie, maar probeer om die spruitloop raak te gooi en die vis daar te soek.

Stel jou poeliesmanne sodat hulle altyd ewe hoog van die water af hang. Sodoende kan jy dadelik sien wanneer daar ‘n indikasie is dat ‘n vis kom ondersoek instel het na een van jou ase.


‘n Goeie sessie (vir meeste van ons).

Ons sessie het afgeskop met Petru wat sommer binne die eerste uur die ys breek met ‘n karp van so ‘n 1kg. Kort daarna kry ek ‘n wilde byt en vang die tweede vis van die sessie en dinge lyk sommer baie belowend. Nie te lank na sy eerste vis nie kry Petru sy tweede. Hier-en-daar speel die vis sommer naby aan die oewer en ek het baie hoop vir my 60 meter lyn wat ek intensief en so akkuraat as moontlik hengel. My ander stok is gehaak op verlede keer se 80 meter afstand wat goeie resultate opgelewer het. Barry hengel ook ‘n nader lyn, maar sy ander stok gooi hy op 100 meter plus. Terwyl ek so by sy kas staan kry ek ‘n indikasie op my 80 meter poeliesman en die lyn trek styf. Ek wag dat die katrol begin kliek-kliek-kliek en toe kap ek eers vas – getrou aan Petru se teorie dat jy die vis by Kromkrans genoeg tyd moet gee om die aas behoorlik in die bek te kry. Met my tweede vis veilig in die hounet kan ek nou konsentreer op die volgende een. . .Barry is bietjie stil daar aan die regterkant, maar teen tien uur is sy hounet ook in die water. Die tyd stap so vinnig aan en toe ek weer kyk is dit reeds 12:30 en ek staan nog steeds op ‘n telling van net 2 vis. Teen hierdie tyd is Petru alreeds op 4 en Barry op 3 vis. Stadigaan soos die son al hoër in die lug opskuif begin die byttempo optel. Barry se 100m-plus lyn is aan die ontwaak as hy nou alreeds die derde vis daar vang. Ek hou by my plan van 60 en 80m aangesien ek seker is die kolletjie móét aan die gang kom. Teen 14:00 se koers is Petru en Barry goed aan die gang en moet ek toekyk hoe die dag verby glip met my 2 vis in die net. Later besluit ek om ook verder te hengel in ‘n poging om dalk net nog een of twee vis ekstra te kan vang, maar tevergeefs. Petru en Barry eindig met sewe en agt vis onderskeidelik en ek moet tevrede wees met net twee. “Bring on the next one...


Deel 3

Ons laaste sessie by Kromkransdam word kort voor ons internasionale vertrek vanaf die “eiland” gehengel. Hierdie gedeelte is aan die suidekant van die dam en dit is letterlik ‘n eiland wat aan die oewer grens. Tien stokke in totaal okkupeer die oewer vandag en bykans in alle windrigtings as gevolg van die ronde vorm van die “eiland”. Petru se vrou, Erika en hul vriende, Paul en Cecile Venter hengel vandag saam met die dames wat ‘n pen vorm en die mans wat ‘n pen vorm.

Heel links op die eiland slaan ek my gerei op. Dit voel bietjie vreemd om paralel met die oewer te hengel en ek kan nie help om my bedenkinge hieroor te hê nie, maar Petru verseker my dat hulle so twee weke gelede op dieselfde plek gehengel het en die vis het goed uitgekom.

Waterdiepte: 1m diep op 10m vanaf die oewer waar ons gehengel het.

Obstruksies: Geen bekend.

Lugtemperatuur:

Min -2°C @ 07:00

Maks 20°C @ 14:00.

Windrigting & Windsterkte:

Suid teen 2 tot 7km/h.

Wolkbedekking: Geen.

Maanstand:

3 Dae na volmaan.

Die sessie.

Datum: 30 Augustus 2014.

Duur: 07:30 tot 15:30.

Verwagting: Die ‘eiland’ bied vlakker tot diepwater opsies afhangend van waar jy hengel. Hoe sal die verskillende areas ons vandag behandel?

Pitte, wurms, floaties en deeg.

Ek moet bieg: die dames het vandag verseker die pas aangegee! Uiteindelik met die hoeveelheid vis, maar ook met die ase. Erika is bekend vir haar mieliepit hoekaas waarmee sy gereeld en bykans oral hengel – karp hou van pitte, groot karp bygesê!

“Voer wat jy op die hoek gebruik” is een van die baie belangrike hengelreëls en dit is presies wat Erika ook vandag toepas. Sy gebruik ‘n blik mieliepitte in die popcorn voer en hengel met ‘n mieliepit op een van die hoeke. Die pit word soms met ‘n wurm en soms alleen op die hoek gebruik. Erika se teorie is dat groter vis gewoonlik die pitte optel wat sorg vir meer groter vis in die hounet teen inweegtyd wat die gewensde resultaat verseker – ‘n wen!

Cecile het met die wurms begin – springwurms om presies te wees en later in die sessie het Karibawurms ook hul verskyning op die hoek begin maak. Die wurm word met ‘n wurmnaald teen die lyn opgeryg wat dit stewig in plek hou en sorg dat dit nie maklik van die hoek kan afskeur met die gooislag nie. Die gebruik van die wurmnaald beteken ook dat die aanbieding meer spesifiek is - die wurm lê uitgestrek op die bodem in stede van op ‘n hopie. Hierdie aanbieding mag meer natuurlik voorkom en kan dus soms ‘n beter resultaat verseker.

Floaties en deeg het ook vandag vir genoeg vis gesorg. Soms het die dames die wurm op die hoek afgerond met ‘n floatie op die punt van die hoek.

Groot op die dip in die winter?

Nog ‘n metode wat vandag hoogs suksesvol was, was om groter hoeveelhede dip op die voerbol te gebruik. Teenstrydig met die ‘dun strepies’ metode kan die oordadige tegniek tóg uitstekend werk – die vis in die net teen oppaktyd is ‘n duidelike bewys hiervan. Gebruik die voerbol in twee helftes wanneer daar van twee verskilende geure gebruik gemaak word: bedek een helfte met een geur en die ander helfte met die ander. Persoonlik hou ek daarvan om die konsentrate afsonderlik, maar op dieselfde voerbol te gebruik, ander hengelaars verkies weer om een geur bo-oor die ander geur te gooi sodat die twee geure as t’ware meng.

Verhoogde volume dip kan veroorsaak dat die geurkonsentrasie langer rondom die aas teenwoordig bly. Verder het ‘n groot volume geur ook ‘n sterker uitwerking rondom die aas. Veral in kouer water soos in die winter mag die groter volume help aangesien die geurmolekule stadiger in die kouer water kan versprei in vergeleke met warm water gedurende somertoestande.

Die Sessie.

Nes ons dink dit word ‘n bietjie warmer met die lente wat in aantog is, slaan een van die laaste kouefronte toe en val die kwik op die Hoëveld skielik en drasties – dis mos nou tipies as ons ‘n sessie beplan..! Die gras is goed met die ryp bedek as ek uit die bakkie klim en ek kan nie help om so bietjie te protesteer teen die koue nie. Die dag beloof darem om nie te sleg uit te draai nie, met 20?C wat voorspel word vir die dag. ‘n Koue suidewind maak die aanvoelbare temperatuur nog laer.

Die eerste vis vir die dag vang ek sommer binne die eerste halfuur nadat ons gegooi het, maar uit vorige ervaring weet ek dat ‘n vinnige begin gewoonlik ‘n stadige einde beteken... Nee wat, veel eerder verkies ek om stadig te begin en dan die kol op te bou en meer vis vinniger te vang en die sessie met ‘n goeie tempo af te sluit, maar ons kan nie altyd kies nie. Die eerste vis vang ek dan ook op die kombinasie wat verlede keer so goed gewerk het, naamlik die helder oranje perske en rooi-oranje ‘cinnamon/bunspice’ konsentrate. Die onderste hoek met die fluoro floatie en degie het ek in die groen heuningsproei gedoop.

Kort voor lank is Cecile se net in en Paul volg kort daarna met ‘n mooi Kromkranskarpie. Erika se eerste vis kom bietjie later, maar onthou wat ek gesê het oor ‘n stadige begin nê. Paul is sommer vroeg-vroeg in die vis en voor ons onself kom kry het hy reeds vier blinklywe in die net. Toe begin die ‘girls’... en hulle begin die dag oorheers. Een vis na die ander word deur die hande met die ingekleurde naels gevang en veilig in die hounette gedeponeer. Ja, die dae dat ons manne ‘n sport soos hierdie oorheers het is getel! Tussen die vyf van ons vang ons vandag oor die veertig vis – alles wat jy wil hê vir ‘n laat winter sessie.

Weer eens het ek gesien dat Kromkrans in die winter effens verder gehengel moet word, met areas van tussen 80 en 110 meter beslis die bestes is om te teiken. Moenie dat die rondloper vis wat hier naby die kant spring en speel jou kop deurmekaar maak nie - dis die spreekwoordelike blaffende honde wat nie byt nie!

Location:

Mpumalanga, Hendrina. GPS: 0.0000000, 0.0000000

Facilities: